Corpus Iuris Civilis

Corpus Iuris Civilis, 1583
Justinianus I afgebeeld op 'n mosaïek in die kerk van die Basiliek van San Vitale in Ravenna, Italië
Corpus Iuris Civilis, 1607

Die Corpus Iuris Civilis is 'n skriftelik neergelegde versameling van wette, besluite, regterlike uitsprake en juridiese leerstukke oor die Romeinse reg. Dit is saamgestel en geskryf tussen 529 en 534 in opdrag van die Bisantynse keiser Justinianus I. Die betiteling word gebruik vanaf die 16de eeu, waarvan die belangrikste deel die sogenaamde Codex Justinianus is.[1]

Die Corpus Juris Civilis het verskeie Romeinse regsbronne en ongeskrewe reëls uit die gewoontereg bymekaargebring, wat op daardie stadium bestaan het uit los wette (leges), reëls en gebruike, soos byvoorbeeld besluite van die senaat (senatus consulta) en keiserlike dekrete, maar ook regsgedinge en die menings en regsinterpretasies van vooraanstaande regsgeleerdes (responsa prudentium ).

Alhoewel die Bisantynse Ryk destyds oos van Italië om die Middellandse See gestrek het en die huidige Griekeland, Turkye en Egipte ingesluit het, sou die Corpus veral ook 'n groot rol speel in die Westerse regsgeskiedenis as gevolg van die inhoud en die rasioneel geordende struktuur daarvan. Dit is deur juriste by alle groot Europese regskole deur die Middeleeue bestudeer, en het as ius commune 'n belangrike bron van kontinentale Europese reg geword. Wat inhoud betref, bevat die huidige Suid-Afrikaanse, Belgiese en Nederlandse siviele reg steeds beginsels en regsfigure wat afkomstig is uit die Romeinse reg, soos dit in die Corpus behoue gebly het. Dit is besonders, indien in ag geneem word dat die samelewing onder keiser Justinianus op 'n heel verskillende manier vanuit 'n sosiale en wetlike oogpunt georganiseer is, en groot groepe inwoners nie regte gehad het wat nou alledaags is nie, soos die reg op eiendom, beheer oor kinders, deelname aan stad en regering of die reg om te erf.

Tribonianus, 'quaestor sacri palatii' (Minister van Justisie) onder keiser Justinianus, was aan die hoof van redaksionele werk. Hy was voorsitter van die komitee van samestellers. Die Corpus Iuris Civilis is in drie dele gepubliseer: Codex Justinianus, Digeste en die Institutiones.

Vroeër geskrewe versamelings van Romeinse reg was die Twaalftafelwet uit die vyfde eeu v.C. en die Codex Theodosianus, wat in opdrag van keiser Theodosius II saamgestel is.

  1. Corpus iuris civilis, Digesten deel II (zie literatuur), Inleiding, pag. XI tot XLII.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search